Kookklas met Herman Lensing

195 leerders wat hierdie kursus volg

R 950.00
Of meld aan om toegang tot jou gekoopte kursusse te kry

In dertien klasse deel Herman sy sjefstegnieke, maklik gemaak vir jou om met selfvertroue by die huis toe te pas. Kenners gee ook raad. Elke les bou aan die volgende sodat jy verstaan wát om te doen, en hóékom. So word basiese beginsels soos mesvaardighede, die kies van vryloopvleis, speserye rooster, boud ontbeen en hoe om blaardeeg te maak jou boublokke vir heerlike familiegeregte, uithangkos en fyngebak.

Ek deel meer as net lekker resepte in hierdie kursus. Dit gaan oor die dieper lesse wat met wysheid kom eerder as met weelderige bestanddele. Ontspan, want in hierdie kookklasse is daar nie ‘n klomp teorie of kwaai lektore wat punte gee nie.

Herman Lensing

Modules

Klas 1: Jou Mes

’n Beter kursus-inleiding kan dit nie, want ’n goeie mes is immers jou vertrekpunt na goeie kos. Kry by mesmaker Jerald Blaber raad watter messe jy rêrig nodig het, hoe om dit te kies en tiptop te hou. Skerp jou skil-, kap- en kerfvaardighede op met Herman (selfs uie sonder trane). Leer tegnieke soos blansjeer en hoe om sy groente-quiche te maak wat net so lekker is as wat dit mooi is.

Lesse

Klas 2: Eiers

Hierdie les ontgin die towerkrag van die eenvoudige eier, die onmisbare bestanddeel en ware toets van ’n sjef se vaardigheid. Gewonder oor die verskil tussen vryloop- en hokeiers, hoe lank hou eiers en hoe stoor jy dit? Eierboer Celia Myburgh het al die antwoorde. Verstaan die beginsels om eiers reg gaar te maak, verloor die vrees vir posjeer en bemeester hollandaise-sous vir Herman se benedicteiers.

Lesse

Klas 3: Aftreksels en souse

Murgbene, groente en ’n kruiebossie  – van die eenvoudigste tot die mees komplekse sous begin by dieselfde basiese boustene. Leer by Eat Out-bekroonde sjef Carmen Muller die geheime van haar souse se diep, ryk geure. Ontdek die vreugde van tuisgemaakte aftreksel en gebruik dit soos Herman om ’n goeie risotto te verhef tot iets onvergeetliks. Bemeester ’n fluweelgladde witsous en maak vriende met jus vir die Sondagskaapboud.

Lesse

Klas 4: Seekos en vis

Ons land se twee oseane beloon visliefhebbers met ’n rykdom van vis, seekos en skulpvis. Maar nie almal ken ’n geelbek van ’n geelstert of wildemossels van geboerdes nie. Mosselfoendi en seekoskenner Nico Prins help jou om die volhoubaarste en varsste by die vistoonbank te kies en dit reg te verkoel. Kyk hoe om oesters oop te maak, leer by Herman vis fileer soos ’n gesoute sjef en hoe jy die essensie van die see in ’n fluweelgladde, ryk bisque vasvang.

Lesse

Klas 5: Hoender

Dink terug aan ‘n plomp, goudbruingebraaide skrophoender. Hierdie klas laat herleef die trots van die Sondagtafel. Kenner Angela Coetzee vat die verwarring uit ‘free range’, ‘pasture-raised’ en organiese aansprake op etikette en hoe om die beste vir jou sak en gesondheid te kies. Herman leer jou om hoender vreesloos op te sny en selfs ontbeen, én altyd pluimpies te kry vir die sappigheid en smake van jou oondhoender.

Lesse

Klas 6: Lamsvleis

Lamsvleis is is nie ‘n kommoditeit soos ‘n blikkie ertjies vir sommer elke dag se  koop nie, maar iets spesiaal vir vanaand se familie-ete of wanneer vriende aansit” so glo artisan-slagter Salvin Hirschfield. Leer hoekom Karoolam anders smaak as Kalahari-lam en ontdek onderbenutte snitte soos nek. Herman ontgin vinnige en stadige roosterbeginsels en span jou nuwe vaardighede in om iets manjifieks van ‘n ekonomiese snit te maak.

Lesse

Klas 7: Speserye en kerrie

Jy’s verby die halfpadmerk! Dit verdien ’n viering met kleurryke kos en kerries in lae geure. Kenner Farzana Kumandan is jou toergids deur die speseryrak, ’n ware speseryfluisteraar wat die misterie uit als van jeera tot barishap neem. Kom in voeling met jou eie kentekenspesery en leer mengsels maak wat jou eie stempel dra. Herman se marinades ontsluit groot smake en hy verras met ’n les in strudeldeeg en aromatiese vulsel.

Lesse

Klas 8: Aartappel

Franse sjefs was slim om die goedkoop aartappel se fyn kant te ontgin. Reg gaargemaak pas dit by die duurste filet op die bord. Met Nic van Wyk se sjeftruuks en Herman se min-moeite maniere bemeester jy hartklopgeregte uit die bistro soos sygladde kapokaartappels en span jy eendvet in vir braai-aartappel met die begeerlikste kraakkors en donsigste binneste. Kry jou tong om terme soos fondant en staan reg vir frite.

Lesse

Klas 9: Pasta Pronto

Ravioli! Tagliatelle! Min dinge rol so maklik van die tong af soos pasta en ‘n japtrap sous.Sophia Loren het immers gesê “alles wat ek is het ek te danke aan pasta.” In hierdie klas word jou kombuis ‘n cucina en jou pastadisse delizioso. Kyk met dieselfde passie as kenner Roberto Pietrella en Herman na die eenvoudige bestanddele, tradisies en tegnieke as boustene van die wêreld se mees geliefde geregte. Rol, vul en vou dan jou eie.

Lesse

Klas 10: Broskors: soet en sout

‘n Eenvoudige tertkors is ‘n toonbeeld van kulinêre alchemie, want dit gee jou die vermoë om met elementêre bestanddele en basiese tegnieke iets so veelsydig soos broskors te maak. Skrikkerig vir terme soos blindbak, wat nog te sê Pâté brisée? Met ‘n fynbak-sjef Merizle Mitrovich as mentor en Herman wat jou hand lei is smelt-in-die-mond broskors binne jou bereik. Gebruik dit vir soutgebak of Herman se beeldskone vlatert.

Lesse

Klas 11: Sjokolade

Swymel jy voor die sensasie om in sygladde ganache te byt, maar is skrikkerig vir sjokoladewerk? Sjokolade is juis Herman se gunsteling-bestanddeel en in hierdie klas span hy saam met sjokolade-doyenne Kanya Hunt om jou inner-sjokolis met selfvertroue hierdie wonderbestanddeel te smelt, smeer en beheer. Nooit weer hoef jy geboelie te voel deur terme soos couvertuur, 70% kakao of tempering nie. As bonus bemeester jy bon-bons ook!

Lesse

Klas 12: Blaardeeg

Hierdie klas bring die ambiance van ‘n Franse bakkery na jou eie kombuis. Onder aansporing van Madame Baker Ciska Rossouw en Herman gee jou rolstok, meel en botter jou die brag-regte tot die mooiste pofkors-melktert ooit. Ervaar die satisfaksie om eeuoue gelamineerde deegtegnieke te bemeester en deur die oonddeur te loer hoe die croissants en Deense gebak wat jy self geskep het uitpof in honderde goue lae, splinterend van lekkerte.

Lesse

Klas 13: Chouxdeeg

Oe-la-la, sjoe, kyk die choux! Die veelsydige, delikate pâte à choux - Parys se windmaker-fyngebak wat ons as poffertjies en eclairs ken - maak ‘n spesiale verskyning in die grand finale. Ontdek die wetenskap en wenke agter die begeerlike kors en imposante holte. Die sleutel lê in die stoom, reken bakkenner en croquembouche-ekspert Daleen van der Merwe. Herman haal die spuitsak uit en skep iets modern met ouma se soesiedeeg.

Lesse